Kortpad se Storie

Ons weet almal dat die "Gewone-" of "Algemene roete" gewoonlik beproef is, en jou vining by jou eindbestemming gaan kry, maar ons weet ook almal dat die “ANDER ROETE” altyd meer interessant en opwindend is. Die maklikste manier om 'n groep gewoonlik te oortuig om die “ANDER ROETE” te neem, is om te se, "ek ken ‘n KORTPAD!!!” Soms is die sogenaamde "Kortpad" nie altyd so kort nie. Wel, miskien in afstand, maar definitief nie in tyd nie. Dis wel 'n feit soos 'n koei dat die kortpaaie meeste van die tyd baie interesanter en opwindinder is as die ou beproefde uitgetrapte roete! Onthou dit is die reis wat belangrik is, en nie noodwendig net die eindbestemming nie.
Kortpad is dus ‘n manier om te se, ons gaan waarskynlik nie die gewilde pad ry nie, maar ‘n baie interessanter pad!
Soos alle goeie stories, is daar natuurlik ‘n storie agter die storie! Hier word die “KORTPAD” storie vertel deur die einste……

Die “Kortpad” ding het sy kop al hier in 2004 iewers uitgesteek, die dag toe ek my Harley Davidson vir ‘n BMW 1150 Adventure motorfiets veruil het. Ons eerste trip met die BMW was om van Pretoria kloksgewys rondom Lesotho te ry en terug huistoe. Of moet ek eerder se “Kortpad huistoe”? Nou ja, van toe af het die pelle so een vir een ook vir hulle begin Adventure motorfietse aanskaf, en ons het al verder en verder van die huis af begin dwaal. Grond, modder, stof en klippe was ons voorland. Ek het nagte op my agterkant voor die rekenaar gesit en soek vir daai kortpad iewers heen, grondpad natuurlik! Wanneer ek nie reggekom het op my Garmap kaarte en Tracks for Africa nie, het ek maar teruggegaan na my pampierkaarte. Daardie tyd was daar nie soveel inligting op die elektroniese kaarte nie.
Toe een Desember in 2006, was ek en my vrou Renee, en ‘n ou groot tjom van my, Walter in die dorp. Kan nie onthou hoekom nie, ons het seker maar agter gebly toe al die Gautengers see toe is. Wel, een aand so agter die braai met so paar chops en so 10 meter wildebeeswors oppie rooster, besluit ons. “More gaan ons bike ry”. Die volgende oggend stof ons die skoeters af, pak hulle, gooi my dik vrou agter op, en trek toe weg in ‘n suidelike rigting, Lesotho toe. Ek en Wally, eintlik Walter, maar ek noem hom Wally, elk gewapen met ons eie GPS. Ek vermoed die enigste verskil tussen ons GPS’se was dat myne gestel was om hoofroetes, tolhekke, u-turns en al daai vermoeiende dinge te vermy. Nie dat Wally nie grondpad ry nie, hy laaik grondpad kwaai.

Wel mense, als het mooi geloop tot net so duskant Harrismith, toe ry ons in ‘n maase reenbui in. Ons stop toe by so sport bar/restaurant vir iestsie en om die reenbui uit te sit totdat dit oorgewaai het. Wally het nog so op die trap by die deur gesit en die water uit sy boots gegooi. En bygese, die donderwolke waai toe nou natuurlik in die rigting van Sani Pas, presies waarheen ons oppad is. Ons vertoef toe ook nie te lank nie, want ons wou nog die aand iewers onder in Himeville slaap. Ons was nie bekommerd nie, want ons ken mos die “KORTPAD” soontoe. Net so buitekant Harrismith is ons toe so gly, gly daar teen die bult uit op ‘n grondpad. Net so ent buite die dorp toe “recalculate” my gps ons roete. My oog vang dadelik daai nuwe pienk streep wat so heen en weer zick-zack oor die gps se screen, en onmiddelik draai ek die vark se oor toe. Die afdraai was so vinnig op ons dat ek en Wally albei overshoot het. Omgedraai en by die afdraai aangekom, sien ons ‘n tweespoor paadjie met lang grasse oppie middelmannetjie. En!!! Sonder ‘n hek!!! Dit lyk toe eers vir ons soos ‘n plaaspaadjie wat baie lanklaas gery is. Na deeglike ondersoek en ‘n ge-in en uitzoom oppie gps’se sien ons hierdie is, “NOG ‘n KORTER PAD”. Dis toe net hier waar Renee en Wally begin wonder hoekom tel my gps die kortpad op, oftewel, “KORTER PAD”, en nie syne nie. Duidelik het die twee gps’se op daardie stadium nie dieselfde taal gepraat nie.
Ek moet ook noem, Wally se bike het nog gestink so nuut was hy. Ons trek toe daar weg op ons “KORTER PAD”, reguit Himeville toe via Bergville. Wally vlieg daar weg met die spoed van wit lig. Ek dag eers daar is ‘n brand iewers waarheen hy oppad is. Na ‘n klomp gepomp in die ribbes hier van agter af op my sitplek het Renee my onder bedaring gebring en ek draai die vark se oor so bietjie toe. Maar ek is nie bekommerd nie, ek het mos ‘n gps. Oor die eerste buld, oor die tweede bult, oor die derde bult, toe sien ons Wally se ligte doer onder in ‘n vlei en dit lyk of hy terugkom in ons rigting. Nader gery, toe sien ons die plek lyk kompleet soos iets tussen ‘n deurmekaar laundromat, ‘n supermarklorrie wat sy vrag verloor het en ‘n yard van ‘n scrapmetal dealer. Jy sien net pannier bokse, poepsakke, toiletpapier en tandepaste rondle. O ja, en ‘n 1200 GS ook daar eenkant. Na ‘n moerse gesukkel het ons als weer so half reggebuig en gelaai. Renee het self haar broek se belt afgestaan sodat ons een van Wally se panniers kon terugstrap op sy bike. Wally was so half bedonnerd en het iets gemompel oor my “Kortpad”. Hahahaha, Renee chirp hom toe nog terug of hy nie gewonder het hoekom die gras so mooi groen is doer onder in die dip nie?
Ons het behoorlik ons gatte af gesukkel daar teen die berg af. Niemand het ‘n woord gepraat nie, net lat waai met ‘n vloekwoord so nou en dan, elke keer as ons moes bike optel. Ek en Renee ry toe voor omdat ons so swaar gelaai is en Wally kan ‘n oog op ons hou en help wanneer ons omval. Toe ons, ons oe uitvee is Wally weg. Dit was onmoontlik om om te draai en ons los toe ons bike en loop terug die berg uit. Nie ver geloop nie kry ons hom met sy nuwe skoeter wat mooi in ‘n donga regop staan. Nader geloop toe begin Wally klippe optel. Ek en Renee sien toe ons moet padgee of ons moet ons helmets terugsit op ons koppe. Buite trefafstand toe draai ons om , net betyds om te sien hoe gooi Wally die vrag klippe wat hy opgetel het een vir een rondom hom neer. Wally was SKUINS BEMOERD!!! Nadat hy al sy amo rondom hom gegooi het, het ons hom versigtig benader. Na ‘n groot gestoei het ons sy bike uit die sloot gestoot. Stilstuipe was toe aan die orde van die dag. Verder gery neuk ek en Renee in ‘n modder poel neer. Wally ry toe mooi verby en stop so ent van ons af en staan net en kyk hoe stoei ek en Renee met ons os in die modder. Ek se toe vir Renee, hier tel ons die bike alleen op vandag, ek gaan nie vra vir hulp nie. Die emosies het half hoog geloop op daardie stadium. Wally het toe net gewag totdat ons altwee half uitgepaas op ons rugge in die gras le met ons os reg langs ons in die modder. Hy stap toe oor en vra heel droog of ons nie gewonder het hoekom is die gras so groen hier onder in die drif nie. Hy klim toe saam met ons innie modder en help ons om ons bike uit die moddergat te kry. Die Kaap was weer hollands!!! Ons het Himeville toe nie gemaak nie, ons moes in Bergville oorslaap daardie aand. Vrot gestoei met die bikes. Wel ons het darrem ‘n mase jol die aand net buite Bergville gehad. Die eienaar van die gastehuis en restaurant het die sleutels later vir Wally gegee en gese hy moet die bar toesluit wanneer die party oor is. Hyt toe geloop en gat slaap.
Vandaar is ons toe Sani pas uit en het die aand bo by Sani Top Challet geslaap. Die volgende oggend sit ons by ontbyt en zoom weer in en uit met die gps’se. Daar val toe ‘n paar voorstelle op die tafel, ons gooi ‘n paar waypoints op ons gps’se en Whalaaa! Ons het ‘n roete terug huistoe. My gps wys toe ‘n korter pad. Daai dag, daai oggend bo-op Sani Pas, belet Wally en Renee my om op my gps se sogenaamde “Kortpad” te ry. Die vorige dag se kortpad was miskien korter, maar het ons meer as dubbeld die tyd geneem van die langer kortpad wat ons oorspronklik sou ry. Wel terug huistoe, toe ry ons op Wally se gps. Van daai dag af, elke keer wanneer ek se ek ken ‘n kortpad dan staan Renee en Wally se hare regop.

Nou ja, genoeg gepraat nou. Laat ons rol!!!